The Breed with the unfair advantage.

Calendar

View our calendar for the latest sale dates, courses and more

Auctions

1. Malherbe Roberts Auction Catalogue 2. Mpumalanga Club Auction Catalogue

Become a member

The Brangus Society offers more than just support and advise. Become part of our family.

Brangus clubs

Browse which Brangus clubs are available in South Africa

‘n Staatsartilleris te velde

Benedict Vanheems 

29 September 2017

Geagte Vriende(inne), Ek is gevra om sommige van my ervarings gedurende die Boere-
Engelse Oorlog te vertel. Dit is jammer dat menige van dié aard al uit my geheue verdwyn
het, asook datum, dag en maand. Dink net ’n weinig na – dit was een-en-dertig jaar gelede
gewees. Nou word ek, arme drommel, gevra om iets te vertel uit die verlede wat kan dien
as herinnering vir die nageslag. Ek, wat beswaarlik standerd “Strepies” gepasseer het, hoe
die joos kan ek dit nou doen sonder om ’n fout te begaan? Wel, lesers en leseresse, wat ek
julle nou gaan meedeel, kan julle as die grondige waarheid aanneem.
In 1897, na die Jameson-inval, het ek na Pretoria gegaan met die doel om by die Suid-
Afrikaanse Staatsartillerie aan te sluit, wat my ook geluk het. Nie lank daarna nie of ek was
ook ’n “Streepdraer” (Streepdrager) gewees. Soos julle seker almal al gehoor het, was die
arme ou Transvaal altyd in die moeilikheid gewees. In 1898 het ons moeilikheid met die
Swazi nasie in Swaziland gehad; kort daarna met die Magato stam agter in Soutpansberg.
Generaal Piet Joubert was bevelvoerder gewees.
Op 12 Oktober 1899, sover ek kan onthou, vertrek ons Tweede Battery Artillerie, onder
bevel van Kaptein Piet van der Merwe, per trein tot by die grens van die Westelike Provinsie.1
Daarvandaan ruk ons op in die rigting van Lichtenburg, waar ons Generaal Piet Cronjé se
kommando ontmoet. Ongeveer die 15de Oktober trek ons in die rigting van Mafeking, tot by
die plaas “Holfontein”, wat behoort het aan ’n ou swart man met die naam van “Kraanvoël”.
Hy was vroeër President Kruger se ordonnans gewees, en die ou President het die plaas aan
ou Kraanvoël as sy wettige eiendom gegee. Vandaar trek ons oor die grens in die rigting van
Kraaipan, Brits-Betsjoeanaland. Op 18 en 19 Oktober, tussen Vryburg en Mafeking, lewer
ons ons eerste slag te Kraaipan. Daar neem ons ’n gepantserde trein, vyftig soldate, een
dubbelloop meksim en twee ander gewere in beslag. Onderwyl die geveg aan die gang was
het die troepe moedig probeer om die spoor op te bou met die lig van lanterns. Toe dit so
lig was dat ons kon sien, bars ons bomme los op die trein. Binne ’n halfuur was alles verby.
Ja, die ou Duitse Krupp dryf hul bomme dwarsdeur die gepantserde enjins. Daarna steek
ons die trein aan die brand en vertrek na Mafeking, waar ons by die hooflaer aankom. Die
volgende dag sê hulle my aan om in ’n noord-oostelike rigting te gaan, ongeveer sewentig
myl ver, om Generaal Lukas Meyer2 met grofgeskut tot hulp te wees teen ’n oprukkende
Engelse mag wat per spoor op weg was van Bulawayo na Mafeking. Op die stasie Pitsani-
Pitlugo, nie ver van die Natwanirivier nie, waar Jameson kampeer het voordat hy sy inval
gemaak het, ontmoet ek Generaal Meyer.
Hier het ons dit maar taamlik smoor gehad. Oom Barend Paul (Baden-Powell) ruk per
spoor op van Mafeking na Pitsani-Pitlugo. Ons is toe in die middel van die optrekkende
magte. Maar wie sê, oom Lukas staan sy man! Hy verslaan beide kante met gevoelige
verliese aan die vyand se kant. Die dooies het die derde dag nog op die slagveld gelê. Die
verliese aan ons kant was nie eers om van te praat nie. Oom Lukas ruk toe weer op na
Mafeking en doen ’n algemene aanval, maar dit was tevergeefs. Kommandant Wolmarans
is daar doodgeskiet. Ons het die dorp gebombardeer totdat hy in ’n puinhoop gelê was,3
maar Oom Barend hou vas. Ons artillerie was in die noordekant langs die Maleporivier
in een fort, vanwaar ons elke nag met ’n vars klomp burgers versterk was. Een mȏre, so
omtrent dagbreek, word ons aangeval. Net ons rugkant is oop, en hulle is sowat vyf-entwintig
tree van die fort. Ons staan ons man en dons hulle op met die skrootvuur. Toe
die son opkom is daar ’n toesnelling van Boere uit die hooflaer om ons tot hulp te wees.
Hulle was onder die indruk gewees dat nie een van ons nog leef nie. My eerste skoot met
die kanon is ’n skroot en die tweede ook; ook die derde van Oom Barend se kant is vinnig
genoeg by ons. Die geweerkoeëls klink nes klokke op die ysterwerk van die kanonne. Toe
ons rus kry, lê hulle soos klippe. Praat nie eers van die skrootvuur nie – die bossies was
weggevee. Ons fort het gelyk asof dit van ’n mis omhul was. Daar was geen verlies aan ons
kant gewees nie. Hulle trek toe met die voettrein uit maar ons artillerie laat hulle met die
kanonvuur gou-gou terugvlug. Verder was daar ’n gedurige bombardement van grofgeskut
op die vyand. In die dorp was daar ook ’n ou “Longtom” gewees.
Na drie dae kom plotseling die bevel dat ons na Klerksdorp moet vertrek. Vandaar
gaan ons, Generaal Piet Cronjé met 4 000 man, per spoor na Edenburg in die Vrystaat.4
Vandaar het ons die volgende roete gevolg: Fauresmith, Jagersfontein, Koffiefontein,
op langs Rietrivier na Jacobsdal en Tweerivier. Die laaste kos wat ons geëet het was op
Klerksdorp, en die Woensdag toe ons hier aangekom het, was ons honger, ja, amper dood
(vrek dood) van honger. Toe ons posisie inneem hoor jy net van alle kante: “Ek wil kos hê!”
Vanaf Belmont, Rooilaagte tot by Tweerivier was dit bloedrooi van Engelse – voetgangers,
perdekommando’s en “Army”-treine. Nou lê ons Boere, Vrystaters en Transvalers, hulle en
inwag. Toe dit lig word Donderdagoggend voel “Kakie” met hulle vyftien-ponders so hier en
daar. Intussen marsjeer die voetgangers na hul bloedbad of dood. Regiment na regiment
kom nader totdat die uitbarsting plaasvind. “Ah!” was die eerste gedagte van die Vales,
“hier lyk dit anders as op Mafeking, nè!” Van agt- tot nege-uur het dit omtrent soos ’n
mistige weer gelyk langs die Rietrivier. Ons militêre bevelvoerende offisier, kaptein van der
Merwe, het die dag op die vlug geslaan, en as ek dit nie verkeerd het nie dan vlug hy vandag
nog.5 Tot nou toe het ek hom nog nooit weer gesien nie. Sersant Japie van Deventer was toe
aan bewind gewees, tesame met sy broer Kolonel Dirk van Deventer.6
Toe die geveg op sy hewigste is, kom die bevel van Generaal Cronjé dat Dirk van Deventer
met sy seksie na Jacobsdal moet gaan. Ons is skaars so ’n entjie weg of ons word weer
agterna geja met die bevel om terug te keer. Ons neem net weer posisie in of die tweede
bevel kom om uit te trek na Jacobsdal. Met die vertrek het ons dit maar weer smoor gehad.
Bo langs die rivier het ’n groot wit gebou gestaan. Daar het Kommandant Jan Kok met ’n
deel van sy Winburg kommando gelê. Drie-honderd treë agter hulle was so ’n rooi randjie
gewees. Ons treë toe met ’n ou Krupp en ’n meksim in die geveg. Sonder versuim moes ons
skiet. ’n Enorme perde kommando lansiers trek aan die oorkant van die rivier na Jacobsdal,
en oral in die rivier was voetgangers gewees. Vriende, daar het kakie sy lot betreur! Daar het
ons artillerie sowel as die Boeremagte die vyand opgedons. Die algemene gedagte was dat
hulle ons storm, maar dit was nie die geval nie. Die dors na water het hulle aangedryf. Die
water het naderhand soos bloed gelyk, as gevolg van dooie Engelse en perde. Ek het met
die granaatkartets gewerk en Van Jaarsveld met die bommeksim. So was ons kanonperde
ook omtrent almal doodgeskiet. Dit was ’n warm dag gewees en ons was bly toe dit aand
word en ons weer kon rus. Dit was toe al die tweede dag dat daar geen voedsel oor ons
lippe was nie. Veg in so ’n toestand wil ek nie weer sien nie.
Woensdag, toe ons by die Tweeriviere geland het, het ons artillerie ’n wandeling geneem
met die doel om kos te soek. Net waar die twee riviere inmekaar loop, op ’n hoogtetjie het
’n hotel gestaan. Die bestuurder het weggevlug. Elkeen het hom maar self goed gehelp. Ek
het self vier bottels brandewyn geneem, nie omdat ek self ’n kranige drinker is nie, maar
omdat dit goed te pas kom om so nou en dan die keel met die bottel te vrywe. Twee daarvan
het ek op die plek waar my kanon gestaan het, begrawe – hulle lê seker vandag nog daar,
en die ander twee het ek in die “wollits” van my saal gesteek. Gedurende die dag was dit
maar as ’n plaasvervanger vir water gebruik. Ons het ook ’n ou bosbokkie op die lyf geloop
toe ons die dag van die hotel teruggekeer het. Dit was net soos ’n haas wat voor ’n hond
opgespring het. Jy hoor net: “Vang hom, vang raak!” Party het die bottel skoon weggegooi.
Die vleis het al gebrand toe het die arme diertjie se hart nog geklop. Dit is aaklig, nè? Maar
honger het dit veroorsaak.
Dagbreek, Vrydagmȏre, is daar geen kommando meer langs die Tweeriviere te sien nie.
Ons, onder Kolonel D. van Deventer is alleen, nog in dieselfde posisie van die vorige dag. Die
Engelse marsjeer vry deur die Tweeriviere. Ons gaan toe in die rigting van Stinkfontein, langs
Modderrivier, waar ons die hele burgermag ontmoet. Ons is toe direk deur na Scholtsnek,
waar ek na ’n halfuur se afsaal ’n oom van my wat nie ver daarvandaan gewoon het nie,
ontmoet, naamlik oom Jan van Straaten. Ek is toe saam met hom na sy plaas waar ek vir
die eerste keer weer kos gesien het. My maag wou die kos nie voor die volgende dag eers
ontvang nie. Dit was nie met my alleen die geval gewees nie, maar met die hele Transvaalse
kommando. Die volgende dag slaan ons ’n nuwe veg-roete in vanaf Magersfontein, van
Modderfontein tot by die rante en met die trein oor tot op die plaas van ’n sekere Maree.
Toe is ons vir ongeveer twee maande vetgevoer deur Piet Cronjé.
Die Engelse het natuurlik die skoonste kanse gehad om hulle magte te versterk vir ’n
volgende aanval. Daar was ’n gedurige bombardement op ons veglinie van die Engelse se
kant met hulle grofgeskut. Op ’n sekere dag gaan ek saam met twee van ons manskappe,
naamlik Volkies en Lombard, vir ’n wandeling na die Rietrivier, waar ons ’n Engelsman
opmerk daar sy perd aan die draad vasgehaak was. Hy het glo gewag dat dit moes donker
word om sy reis na Kimberley weer te aanvaar. Toe ons nader kom merk die baas van
die perd ons op. Hy was half ontkleed, en net soos hy was, bestyg hy sy perd. Net toe hy
die saal vat, kry hy twee koeëls tegelyk. Die man met perd en al was toe in ons hande.
Nadat alles deurgesnuffel was, vind ons ’n “Plan” by hom met die volgende handtekening
onderaan: “I am Africaner”. Sover ek weet, was dit die eerste verraad wat gepleeg was. In
die sogenaamde “Plan” was alles duidelik aan die hand gegee welke metodes die Engelse
moet aanwend om ons veglinie uit te dun vir ’n gemaklike deurtrek langs die Modderrivier
op na Magersfontein. Ons het die plan aan Generaal Cronje oorhandig – maar niks het hom
die skrik op die lyf geja nie, en sy antwoord was: “As dit gebeur, bring julle al hulle regterore
vir my.”
Enige dae later het die slag van Magersfontein plaasgevind. Dié dag was dit hel op aarde
gewees vir beide kante. Die uitslag was dat die vyand teruggeslaan is met ’n verpletterende
neerlaag, aan ons kant was ook swaar verliese gely. Daarna het die vyand hulle goed
uitgerus vir ’n tweede aanval. Toe volg die plan van die raadgewer met die naam van “I am
Africaner”. Alles was haarfyn uitgevoer soos dit aan die hand gegee was, en dit het ook op
’n skitterende sukses uitgeloop. Ons was onder bevel van Kommandant Andries Cronje –
Oom Piet Cronje se broer, en moes na Koedoesrand gaan om die vyand terug te slaan, wat
ook ’n sukses was. Op ons terugtog na Magersfontein kry Oom Andries ’n rapport wat lui:
“Baan julle eie weg, die Engelse het by Magersfontein deurgebreek”. Daar was dus nie tyd
vir die insameling van die regterore nie. Nou kan die lesers ook goed verstaan wat gebeur
het op die raad van “I am Africaner”. Ag julle vyande nooit te gering nie! Ons is teruggeslaan
tot by Douglas (Dakklis) waar die Vaal- en Rietrivier bymekaar kom. ’n Bietjie hoër op, by
Smitsdrif is ons toe deur die Vaalrivier, en langs die Kaapseberg op in die rigting van Barkly-
Wes (Baaklie-West). Daar was ons weer ’n taamlike sterk mag van omtrent 1 800 weerbare
man gewees – die Griekwalanders het by die dag meer aangesluit. Daar het ons weer ’n
harde slag gelewer. Die vyand moes vlug en ons het die dorp ingetrek. Vandaar is ons na
Smitsmyn, Klipdam, Hebron en Veertienstrome.
As gevolg van die voortdurende trek het die vyand al die agtergelate dorpe weer in besit
geneem. Ons moes toe weer terug en dit was ’n vegtende terugtog. Ons het eers weer
Hebron en toe Smitsmyn ontset. By laasgenoemde plek was ek so dronk gewees dat ek my
ryperd vir my saal aangesien het. Ek was die enigste een van die militêre mag wat oor die
lyn getrap het, maar wat die burgers aanbetref, behalwe die hoofde, was almal onbekwaam
tot enige diens. Die volgende dag is ons na Vaalrivier om ’n pont te laat sink. Die pont was
die broodwinning van ’n sekere huisgesin – hulle was Britse onderdane. By die plek waar die
pont was, was die rivier omtrent agthonderd treë breed, en die pont was in die middel. Ons
plan was om die deurgang vir die vyand te verspêr. Die bevel kom toe dat ek die pont moes
stukkend skiet, wat ek sommer dadelik uitvoer – ek was mos die vorige aand dronk gewees.
Nadat ek my derde skoot afgevuur het, sê ek aan Andries Cronje: “So oud, en by dit alles
nog 1 800 man met u en nog so onnosel! Ek sal hom skiet tot daar nog net een plank oor
is en dan sal hy nog nie sink nie, tensy dat die pontlyn gebreek word.” Toe vra die ou weer
vrywilligers om die lyn van die pontkatrol te gaan afhaal. “Aha!” was ek weer klaar vir die
ou Oom, “nog so onnosel! Al vat julle al 1 800 man dan sal dit nog onuitvoerbaar wes.” Toe
trek ek my klere uit, stap na die voorwa van die kanon, haal die byl af en stap die wal af. Die
water was hoog, maar ek swem in.
Toe ek op die pont was merk ek dat nog twee man aan die kom was. Ek begin dadelik te
kap, en net toe hulle daar aanland, splits die tou. Dadelik was die moeilikheid opgelos, en
die pont was op die bodem van die Vaalrivier. Dit was die mooiste gesig wat ek ooit in my
lewe aanskou het. Terwyl die pont besig was om te sink het die water deur die koeëlgate
gepers en met ’n vreeslike gedruis omtrent 20 tot 30 voet hoog gespuit, wat myle ver gehoor
kon word. Ek het weer begin om uit te swem maar daar my gedagtes so geokkupeer was
deur die pragtige gesig, het ek nooit opgemerk dat ek omtrent 500 treë stroom-af geswem
het nie, toe moes ek net haal vir die wal. Op die wal het ’n ander ellende my weer te beurt
geval. Die wêreld was oortrek van dorings. Maar dit alles het nie veel saak gemaak nie, want
my fout van die vorige aand was weer herstel. Kolonel van Deventer, wat vir my so kwaad
was dat hy my kon stukkend kyk, moes maar saam met Oom Andries my op die “Kennis des
tempels” verhoog. Daarna is ons weer verder.
By Klipdam het ons weer ’n harde slag gehad, maar ons het die vyand teruggedryf tot by
Barkly-Wes, en daar het ons hulle ook uitgedryf. Wyle Ben Bornman van Excelsior was destyds
waarnemende Vrederegter op Barkly-Wes. Daarna is ons toe weer terug na Veertienstrome
waar ons daagliks vegtend was met die vyand, wat toe by Warrenton gekampeer het. Daar
is een van ons militêre onder-offisiere, Farrier Kapp,7 met twee manskappe, Venter van
Philippolis en Claassen met ’n liddiet bom van die vyand se kant verongeluk. Daarvandaan
het ons weer by Hartsrivier in aanraking gekom met die Engelse, wat probeer het om ’n
weg te baan na Mafeking maar vir wie ons ’n goeie toetakeling toegedien het. Daarna trek
ons na Christiana, Bloemhof, Wolmaransstad, Klerksdorp, Potchefstroom, Krugersdorp na
Pretoria, waar ons vir ’n dag lank die hoofstad verdedig het. Daar het ons die dag baie pret
gehad, te veel om op te noem. Die Engelse het die dag soos sprinkane voor ’n ploegsooi
geval. Ongeveer ’n uur voor sononder kom kommandant Deswick8 van Potchefstroom
net reg agter ons kanon die rand uit. Net toe hy uitkom, bars ’n vyandelike bom ongeveer
vyftien tree voor hom, sodat hulle toe is onder die stof en klippe. Daar word geskreeu:
“Van Straaten, wanneer kom jy uit? Wanneer kry jy klaar? Al die mense is al uit!” Hierop
antwoord ’n sekere Pretorius, een van ons artilleriste: “Is jy klaar? Ek is lankal klaar.” Toe
my kanon wegtrek, skiet Pretorius met die mauser met die woorde: “Tot hier en verder as
hier vlug ek nie. Hier laat ek my vang of doodskiet.” Tot vandag toe het ek nog niks weer van
hom gehoor nie. Ons het hom nooit weer gesien nie.
Die volgende dag was ons gestasioneer by die drankfabriek, duskant Donkerhoek. Daar was
ek die oggend voor die Krygsraad, daar hulle onder die impressie was dat ek die antwoord
aan kommandant Deswick gegee het. Die ou oom het net verkeerd gevang, in plaas van aan
die kop was dit aan die stert gewees. Daarna was al die burgermagte in posisie – generaal
Botha in Donkerhoek, generaal De la Rey met ons by Komatipoort. Daar het “Kakie” weer
aangeval. Hulle het egter toe by generaal Botha deurgebreek. Die verskuiwing was toe tot
sover as Balmoralstasie.
Daarna het generaal De la Rey met ons omgetrek deur die Bosveld, tot by Rustenburg,
oor die Silkaatsnek in Magaliesberg. Daar moes ons weer ’n bitter pil wegsluk. Ons 68 man
het 1 500 Engelse ontmoet. Maar onder leiding van generaal De la Rey het ons hulle goed
in die stof laat byt. Ons trek toe weer in die rigting van Krugersdorp, Potchefstroom tot
aan die hooflyn Johannesburg-Veertienstrome. By Sesmylspruit kry ons die burgers wat
voor die oë van die hoofde onder die Engelse ingery het, wapens neergelê en onder die
beskerming van die Engelse op die plaas gewoon het. Ons kommando het dus by die dag
gegroei. Die moeilikheid was net dat hulle almal ongewapen was. Dit het gekos dat ons
moes hard veg om vir hulle wapens te kry. So het ons hot en haar rondgetrek. Ons artillerie
was nog altyd onder bevel van kolonel D. van Deventer gewees, maar nadat hy op die plaas
“Beintjieskraal” naby Hartebeesfontein gevang is, moes ons as burgers in die kommando
gaan. Ons het nog grofgeskut gehad, maar geen ammunisie nie. Die beste was om dit te
begrawe, wat ons ook gedoen het. As dit nie deur een of ander persoon aangewys is nie,
dan lê hulle vandag nog in Hartebeesfontein se prospekgate.
Daar was ’n sekere Robinson van Krugersdorp gewees. Hy was nooit op die veld gewees
nie. Hy was in besit van dokters sertifikate dat hy onbekwaam is tot enige velddiens.
Nadat die vyand hulle deurtog gemaak het, het Robinson op die goed bekende plan begin
rondgaan, wetende dat daar nie een man was nie en dat die bewoners alleen vroumense
was. Hy het die smerigste dade waaraan gedink kan word, gepleeg. Met ons terugtog van
Balmoralstasie en by ons aankoms in die distrikte van Krugersdorp en Potchefstroom was
al wat ons van die kant van die vrouens gehoor het: “Vang vir Robinson, ons wil van hom
riempies sny.” Ons hele mag het net 68 man9 getel; 34 het saam met generaal De la Rey na
Frederickstadstasie gegaan en 34 saam met generaal Liebenberg na Welverdiendstasie. Die
doel was om die “Army”-trein te probeer vang, wat misluk het. Dog ons het daarin geslaag
om ’n ander trein digby Welverdiend te vang met 42 troepe, 41 kleurling vroue en 43 blanke
vrouens wat verlof gekry het om van hulle mans, wat as gevangenes in Johannesburg gesit
het, te gaan afskeid neem.
Ons het die trek toe voortgesit in die rigting van Federikstad. Nie ver daarvandaan nie
het iets eienaardig gebeur. Veldkornet Van Graan het verlof gevra om na sy plaas, ongeveer
’n uur te perd van Frederickstadstasie, te gaan. “Nee,” was die antwoord, “miskien is daar
mȏre ’n beter geleentheid en dan kan u gaan.” “Generaal,” sê Van Graan, “Ek gaan, mȏre
wil ek nie meer verlof hê nie.” En hy vertrek toe met sewe man. Hy het ’n voorgevoel gehad,
maar het niemand daarvan gesê nie. Dieselfde dag moes sy vrou en vier dogters in hul
woning opgeblaas word, daar sy onder verdenking gestaan het dat sy twee gewere versteek
het. Met sy aankoms daar vind hy 150 troepe en ’n offisier wat voor die venster gestaan
het. Hy klop aan die ruit en sê vir die vrou: “Nog een minuut tyd.” Maar dit was sy eie laaste
minuut wat hy afgeklop het, want toe val hy. Die vrou wis nie beter dat hy gebuk het om
die dinamiet aan te steek nie. Net toe jaag Van Graan voor die venster verby en een van
die dogters roep uit: “Moeder hier is vader!” Nou kan elke leser dink watter verrassing dit vir die arme vrou moes gewees het om op so ’n wonderlike wyse verlos te word. Van Graan het ’n skitterende oorwinning behaal. Dus was hy heeltemal reg toe hy gesê het: “Mȏre wil ek nie meer verlof hê nie.”
Enige maande later het ons daarin geslaag om Robinson te vang op die plaas “Modderfontein”, na aan Welverdiendstasie, wat aan ’n sekere Pienaar behoort het. By ons was ’n kommandant Breytenbach wat ’n verkennersmag van 42 man gehad het. Almal was ongetroude jong seuns, behalwe Pienaar en die kommandant self. Hulle het die naam gedra van die “Brugate”.10 Net een woord – “Brugate!” – en dan was hulle klaar vir vertrek. Sy wagte was uitgesit en die kommando was bo langs die Mooirivier op die plaas van Wolmarans. Die rapport kom toe in van die wagte dat 150 Engelse besig was om van Frederikstad op te trek na Modderfontein. Pienaar se familie was nog op die plaas gewees, en die vyand het by hulle ’n ingespanne en oningespanne wa gehad. Dit was net “Brugate!” Gert van der Linde en ek het verlof gevra om saam te gaan. Ons was dus 44 man gewees. Die plek was mooi en goed bewerk, en toe ons op ’n afstand van 6 – 700 tree kom skiet hulle so dat geen mot kan bestaan nie. Op 500 tree afstand skiet hulle Pienaar, die eienaar van die plaas, dood. Sy vrou het dit gesien maar het nie geweet dat dit haar man was nie. Die kommandant sê: “Brugate volg my!” die vyand het agter ringmure gelê. Daar was geen ander kans as om die geweerbekke oor die muur te laat spring nie. Ons het hulle met die gewere doodgeslaan want daar was geen kans om hulle te skiet nie. Op negentien na het ons almal gevang, onder andere ook vir Robinson. Behalwe Pienaar was nie een van ons gewond of doodgeskiet nie. Dieselfde aand is Robinson se vonnis gevel, naamlik dat hy die volgende oggend om sesuur moes doodgeskiet word, wat ook uitgevoer is. Ek het vandag nog sy sakhorlosie, wat hy self aan my gegee het, in my besit.
Liewe lesers, ek is jammer dat ek nie ’n volledige beskrywing van alles kan gee nie. Ek is bang my storie word te lank, en buitendien het dag en datum my al ontgaan. Later het generaal De la Rey ons aan generaal Smuts afgegee. Sy eerste werk was om ’n Engelse kamp wat vir twee maande vasgegrawe was, vas te lê op Gatsrand, na aan Krugersdorp. Die eerste, tweede en derde dag het ons harde aanvalle gedoen, dog die vyand het venynige weerstand gebied. Dit was hopeloos om daaraan te dink om ’n treë grond te win. Die vierde dag, so tussen drie- en vier-uur het ons daarin geslaag om die vyand so omtrent sewe treë terug te slaan met ’n onbedenklike verlies. Aan ons kant was slegs drie gewondes, naamlik kolonel Van Deventer, Bill Smith en Pat Roodt. Al drie was artilleriste. Die kolonel dra vandag nog die koeël in hom. Daarna klim ons die forte in en “Hands up!” Antwoord “What is up? Hands up, is that all?” Die kamp was in ons hande. Ons het een man verloor, kommandant Jaap Breytenbach.11
Nadat alles afgehandel en die gewere op die waens gepak was, loop ’n jong seun op een van die waens. Die duiwel weet wat hy gesoek het, maar daar bars ’n skoot los wat twee bejaarde broers, twee Van den Bergs wat besig was om kos te maak, tref. Een was onmiddellik dood en die ander een is vieruur later dood. Nie te lank nie of die brandwag kom ingejaag. Die klomp was glo net hard besig gewees om te drink, want drank was volop gewees. Op ons vraag wat verkeerd was, kom die antwoord dat ’n groot versterking van Krugersdorp se kant af kom. Baie van hulle was al hoog aan gewees. Sommige se geweer was weg, ander se perd en hoed weer, maar al wat regkom dié jaag. Alles was in rep en roer. Vanaf die kamp was dit net een streep tot waar die voorstes die Engelse ontmoet het. Laasgenoemde wou weerstand bied, maar die klomp aanstormende burgers was so verwoed gewees dat geen koeël hulle kon laat terugdeins nie. Dit kon die Engelse nie staan nie. Hulle het op vlug geslaan en die Boere jaag hulle agterna tot in Krugersdorp. Hulle het nie daaraan gedink om weer ’n tweede aanval te doen nie.
Daarna het ons weer te doen gehad met ’n groot Engelse mag wat van Bankstasie af opgetrek het. Ons het by Gatsrand gelê. Ons het hard teenstand gebied, net jammer die drank was op gewees. Hulle het ons van plek tot plek teruggedryf tot agter Gatsrand, waar ons ’n sterk posisie ingeneem het. Daar het ons hulle sewe dae lank vasgehou, maar toe moes ons weer padgee. Daarna kampeer hulle op Frederikstadstasie, maar daar lê ons hulle weer vas met die hulp van generaal De Wet uit die Vrystaat. Die agtste dag is hulle weer ontset deur ’n versterking uit Johannesburg. Hulle het swaar verliese gely, maar die dag toe hulle ontset is, is ’n deel van wyle Danie Theron se manskappe gevang. Ook veldkornet Conradie van Krugersdorp was in so ’n posisie gewees dat hy nie kon padgee nie. Hy het hard weerstand gebied en die vyand harde slae toegedien, maar omdat generaal Froneman nie aan sy plig om ammunisie te verskaf, voldoen het nie, moes Conradie retireer met swaar verliese. Na nege dae het daar nog van die gewondes langs die rietvleie van Mooirivier rondgedwaal.
Daarna het ons vir ’n lang tyd rus gehad. Verraad het egter sy vrye loop gehad. In een huis het ons vir hoogverraad gevang die vader, genaamde Jacobus Theunissen, drie skoonseuns, en twee Ahrenses, ’n eie seun asook ’n aanstaande skoonseun, ook met die naam van Ahrens. Laasgenoemde twee is losgelaat nadat hulle voor ’n regter verskyn het. Die vader en die ander drie is doodgeskiet. Die regters was prokureur Rudman van Klerksdorp, kommandant Deswick12 van Potchefstroom en myn-kommissaris Van der Merwe van Johannesburg. Daarna kom die groot vlugtog van generaal De Wet uit die Vrystaat na Transvaal. Die gevolg was dat ons saam met hom moes vlug. Dit was ’n onweerstaanbare mag wat hom agtervolg het. Mens en dier was uitgeput. Toe Swartruggens in gesig was sê generaal De la Rey: “Hier sal ons met hulle bots.” Daar het generaal De Wet ons gefop. Hy sou ons kastig kom help het, maar het toe verder gevlug oor Magatonek, Magaliesberg, Rustenburg op na Krokodilrivier en die Bosveld in.13 Ons het hom nooit weer gesien nie, en moes maar die spit alleen afbyt. Hoewel ons geliefde ou generaal De la Rey die vyand ’n goeie slag toegedien het – die verlies aan ons kant was 75 man – het ons die vlug sover as Magaliesberg voortgesit. Daarna is ons al met die bergterrein langs, Kommandonek, Magatonek en Rustenburg, waar ons posisie ingeneem het. Ons het gedink dat hulle daar sou weet van ’n ding, daar hulle nie die gebergtes kon beklim nie. Maar wie sê, die ander dag skiet hulle ons van die hoogste toppunt af sodat ons moes padgee in die rigting van Krokodilrivier, die Bosveld in, met die rivier langs Nylstroom toe en toe weg in die Pilansberge en weer na die onderend van Magaliesberg, Swartruggens, Lichtenburg, Ventersdorp, Hartebeesfontein, Klerksdorp.
In die tussentyd het ons baie staaltjies gehad, te veel om op te noem. Verder het generaal De la Rey my vir baie dienste gebruik, totdat ek verlof gekry het om in Winburg-distrik, O.V.S, aan te sluit.14 Plotseling vind die slag teen Lord Methuen plaas. Dit het uiters twee- en ’n halfuur geduur of hy was in ons hande.15 Sy been was af gewees. Na dit het ek nog perde opgekoop, gerugte van klerasie probeer opspoor in Boshof-distrik, waarin ek ook geslaag het. Daardeur kon ek nog vir laas die hele burgermag voorsien van ’n taamlike voorraad klerasie, koffie en suiker, waarvoor die ou generaal my nog met dank vaarwel gesê het. Toe het ek en my agterryer, Silkaats, vertrek na Winburg. Op pad het ons wonderlike ontmoetings gehad, maar ons het darem voorspoedig gereis. Daarna sluit ons by generaal Froneman aan. Hier het ons met swart soldate en Kakie-boere te doen gehad. Op 10 Januarie, om drie-uur in die oggend kom die brandwagte ingejaag met die vyand kort op hulle hakke. Ons ruk toe skielik op na Witkop, en toe dit lig word, was ons daar. Nege van ons swenk toe bietjie weg van die kommando in die rigting van die plaas van ’n sekere Dreyer. Ons merk toe dertig perderuiters op wat onverwags op ons afstorm. Wat kon nege man nou doen? Op ’n afstand van drie-honderd treë spring hulle van hulle perde af, ons volg hulle voorbeeld en toe begin ons mekaar opdons. Ons skiet twee van hulle plat en hulle val terug tot ’n volgende posisie. Ons storm hulle weer en hulle vlug by Dreyer se woning oor die punt van die berg. Ons agtervolg hulle, en toe ons weer kom kry, het hulle ons mooi in ’n hinderlaag gelok. Toe was hulle nie meer dertig nie maar ongeveer sestig man gewees, almal van hulle Kakie-boere. Eers vang ons tien Engelse wat moes perde vashou. Toe moes ons skiet, en nie alleen skiet nie maar ook raakskiet. Jimmy Blignaut word doodgeskiet. Andries Prinsloo en ek kry ’n kans om vir ons ’n pad deur te skiet en ons twee begin die vyand toe van agter af aanval. Die gevolg was dat ons ons losgeskiet het.
Onderwyl die geveg nog so hewig aan die gang was, het ’n paar ander mans ons tot hulp gesnel. Dit was kommandant Koos Vermaak, veldkornet Du Plessis en my broer, Johannes van Straaten. Net toe hulle injaag, word die kommandant gewond, en toe die veldkornet van sy perd afklim, word hy ook gewond. Nadat my broer sy tweede skoot geskiet het kry hy self ’n doodskoot.16 Ons was dus maar weer net agt man wat kon veg. Op vier na het ons hulle almal doodgeskiet. Toe was ons los gewees. ’n Sekere Van Zyl en ek het sewe-en-twintig perde met volle mondering naby die verby trekkende Engelse leër gaan vang. Volgens mevrou Dreyer se verklaring was daar aan die vyand se kant drie vragte dooies en twee ambulanswaens vol gewondes gewees. Dit was wat ons agt man gedoen het, naamlik veldkornet Hans Lindeque, Andries Prinsloo, Jan Bosch, Michal Meyer, Frikkie van Zyl van Colesberg, Jimmy Blignaut ’n seun van die staatsekretaris van Bloemfontein, en Wessel van Straaten.
’n Bietjie later, so omtrent die einde van Maart 1902, het ons gebots met Vilonel op die plaas “Cypress” van generaal Froneman. Vilonel was die hoofleier van die Kakie-boere van die distrik Senekal gewees. Ons vang toe ses Kakie-boere, twee Ellison broers, Meyer, Tromp, Smit en Van Niekerk. Almal is deur die krygsraad tot die dood veroordeel. Na afloop van die krygsraad vra ek aan kommandant Jan Maree, wat omtrent die twee jong seuns: “Ja, hulle ook!” was die antwoord. “Wel”, het ek toe by myself gedink, “nou moet ek my invloed gebruik”. Ek sê toe aan hom: “Ek het al gesien dat soveel doodgeskiet word, maar nog nie een minderjarige persoon nie. Onmondiges het almal met ’n deftige loesing daarvan afgekom. Ek dink julle het daar verkeerd gehandel.” “Wel Wessel,” was sy antwoord, “ek moet eerlik sê dat ek nog nooit daaroor gedink het nie, maar ek sal my invloed gebruik”. Dit het hy ook gedoen en die twee is losgelaat met net ’n pak slae elk. Beide is vandag nog in lewe en hier in Marquard-distrik woonagtig. Hulle is Smit en Van Niekerk. Mnr. Tromp het ontvlug, wat ek ook maar sou gedoen het. Hy is woonagtig in Bloemfontein-distrik. Meyer en die twee broers is doodgeskiet.
Net na die insidentjie was dit wapenstilstand tydens die vredesonderhandeling. Agbare lesers(esse), hieronder volg nog ’n verhaal van wat een van ons burgers ondergaan het. Mnr. Gideon Lourens17 was ’n woelwater wat vir homself nie rus gehad het nie, meer as eens het hy die kommando gedurende die nag verlaat en stoksielalleen na Ladybrand gegaan, dan skiet hy die Engelse daar vuurwarm en ontsnap weer. Hy versteek hom dan in die gebergtes en elke kans wat hy kry, maak hy van gebruik om hulle te kap. So het hy hulle van tyd tot tyd geterg totdat die Engelse naderhand deur verraad uitgevind het wie hy was. Hy was altyd onder kommandant Koen, die meeste van die tyd alleen. Lateraan het hy ’n klompie jong seuns onder hom gehad, wat almal maar rof gewees het. Hulle het toe in die gebergtes al om Ladybrand geboer en het baie goeie werk gedoen. Op ’n sekere dag het hulle in die woning van mnr Waldman geslaap sonder om ’n wag uit te sit. Toe hulle hulle weer kom kry, was hulle omsingel deur Engelse. Een van hulle het ontsnap, maar die ander het soos een man geveg om los te kom, tot die ammunisie ingegee het. Versterkings het nie opgedaag nie en Lourens was genoodsaak om oor te gee. Hulle het Lourens na buite uitgelei en langs die stoep van die woning wou hulle hom blinddoek en doodskiet. “Nee,” sê hy, “ek is ’n man!” toe ruk hy sy hemp oop en sê: “Hier staan ’n man! As julle my wil skiet, skiet my soos ’n man dood!” Hy het met sy rug teen die muur gaan staan en hulle het sy hart met die koeëls deurboor. Elkeen wat wil gaan kyk sal nou nog die koeëlgate in die muur sien. Dit sal daar bly tot die jongste dag ter herinnering aan ’n man wie sy bloed vir sy land en volk gegee het – Gideon Lourens, asook ter herinnering aan ’n gemene skandvlek op die naam van die Engelse wat deur wraaksug daartoe gedryf was om so ’n daad te pleeg op ’n Afrikaner wat tot die dood toe sy land heldhaftig verdedig het. So ’n heldedaad sal nooit deur ’n ware Afrikaner vergeet word nie!
Die vrede is gesluit en ons moes toe wapens neerlê. Generaal De Wet het ons op die plaas “Wilgerboom” in die distrik van Winburg ontmoet. Daar het hy ’n lang toespraak gelewer en het vertrek na ’n ander plek. Ons het toe vertrek na die plaas Klipplaatfontein, na aan Winburg, die plaas van wyle Louis Maree. Daar het ons genl. Elliott met al sy seremonies ontmoet. Voor hom moes ons ons wapens neerlê. Dit was nie ’n dag van vreugde gewees nie maar wel van trane en verdriet vir diegene wat in die skoot van die aarde gerus het. Dog in plaas van om te treur hoor ons oral: “Hiep, hiep, Hoera!” Op so ’n toon dat dit myle ver gehoor kon word. My bloed het gekook by die gedagte dat ons daardie dag ons land moes begrawe. Ek trek toe hierna my dierbare geweer oor my skouer en slaan hom voor genl. Elliott stukkend. Daar was nog tien patrone in die magasyn gewees en dié het soos mieliepitte op die grond geval. Daarmee was ek klaar gewees. Ek klim toe op my perd en ry na Winburg, waar ek ’n paar uur versuim het. Daarvandaan is ek terug na my woonplaas, waar ek vandag nog woon. So gee ek al hierdie ervarings in geskrif onder my handtekening. Dit is die grondige waarheid en het alles in my teenwoordigheid gebeur, behalwe die geval van wyle Gideon Lourens, hoewel ons onder een generaal gestaan het. So sluit ek met agting en met respek en liefde vir my land en volk en die dode wat vandag in die skoot van die aarde rus.
Our

Share if you like it:

GoFarming

What we are all about

Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Ut elit tellus, luctus nec ullamcorper mattis, pulvinar dapibus leo.

Sponsor
Partnering Performance
Our favourites
Explore